Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Job 40

1 (39:34) En die HERE het Job geantwoord en gesê:

2 (39:35) Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord!

3 (39:36) Toe het Job die HERE geantwoord en gesê:

4 (39:37) Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond.

5 (39:38) Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie.

6 (40:1) En die HERE het Job uit 'n storm geantwoord en gesê:

7 (40:2) Gord tog jou heupe soos 'n man; Ek sal jou ondervra en onderrig jy My.

8 (40:3) Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê?

9 (40:4) Het jy dan 'n arm soos God? En kan jy donder met die stem soos Hy?

10 (40:5) Versier jou tog met heerlikheid en hoogheid, en beklee jou met majesteit en glorie!

11 (40:6) Giet jou toorn in strome uit; en kyk na alles wat hoog is, en verneder dit.

12 (40:7) Kyk na alles wat hoog is, onderwerp dit; en werp die goddelose neer daar waar hulle staan.

13 (40:8) Begrawe hulle almal saam in die stof; sluit hulle aangesigte in 'n verborge plek weg.

14 (40:9) Dan sal ook Ek jou loof, omdat jou regterhand jou die oorwinning gee.

15 (40:10) Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos 'n bees.

16 (40:11) Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik.

17 (40:12) Hy hou sy stert reguit soos 'n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg.

18 (40:13) Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster.

19 (40:14) Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf.

20 (40:15) Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar.

21 (40:16) Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras.

22 (40:17) Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom.

23 (40:18) As die rivier swel -- hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis 'n Jordaan teen sy mond.

24 (40:19) Sal 'n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor?