Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 102

1 'n Gebed van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. (102:2) o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom!

2 (102:3) Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou!

3 (102:4) Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos 'n vuurherd.

4 (102:5) Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet.

5 (102:6) Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees.

6 (102:7) Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos 'n uil op die puinhope.

7 (102:8) Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak.

8 (102:9) Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as 'n vloek.

9 (102:10) Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane,

10 (102:11) vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp.

11 (102:12) My dae is soos 'n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek.

12 (102:13) Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.

13 (102:14) U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom.

14 (102:15) Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin.

15 (102:16) Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid;

16 (102:17) omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het,

17 (102:18) Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie.

18 (102:19) Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof;

19 (102:20) omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het,

20 (102:21) om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood;

21 (102:22) sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem,

22 (102:23) as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien.

23 (102:24) Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort.

24 (102:25) My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie -- u jare is van geslag tot geslag!

25 (102:26) In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.

26 (102:27) Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn.

27 (102:28) Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.

28 (102:29) Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.