Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 140

1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. (140:2) Red my, HERE, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld;

2 (140:3) wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek.

3 (140:4) Hulle maak hul tong skerp soos 'n slang; gif van 'n adder is onder hulle lippe. Sela.

4 (140:5) Bewaar my, HERE, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot.

5 (140:6) Trotsaards het vir my 'n vangnet gespan en toue; hulle het 'n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel. Sela.

6 (140:7) Ek het tot die HERE gesê: U is my God; luister tog, HERE, na die stem van my smekinge!

7 (140:8) HERE Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd!

8 (140:9) HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela.

9 (140:10) Wat betref die hoof van die wat my omring -- laat die onheil van hulle lippe hulle oordek.

10 (140:11) Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie!

11 (140:12) Laat die kwaadspreker nie op aarde bevestig word nie; die man van geweld -- laat die ongeluk hom jaag met slag op slag.

12 (140:13) Ek weet dat die HERE die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig.

13 (140:14) Sekerlik, die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal voor u aangesig woon.