Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 45

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." Van die kinders van Korag. 'n Onderwysing. 'n Lied van die liefde. (45:2) My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande 'n Koning; my tong is die pen van 'n vaardige skrywer.

2 (45:3) U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig.

3 (45:4) Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid;

4 (45:5) ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!

5 (45:6) U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande.

6 (45:7) U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer.

7 (45:8) U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.

8 (45:9) Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.

9 (45:10) Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir.

10 (45:11) Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader;

11 (45:12) en as die Koning u skoonheid begeer -- want Hy is u Heer -- buig u dan voor Hom neer.

12 (45:13) En, o dogter van Tirus -- met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense.

13 (45:14) Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding.

14 (45:15) In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring.

15 (45:16) Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.

16 (45:17) In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.

17 (45:18) U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.