Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 6

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente; met basstem. 'n Psalm van Dawid. (6:2) o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie.

2 (6:3) Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik.

3 (6:4) Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank?

4 (6:5) Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil.

5 (6:6) Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?

6 (6:7) Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane.

7 (6:8) My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders.

8 (6:9) Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor.

9 (6:10) Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.

10 (6:11) Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in 'n oomblik beskaamd omdraai.