Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 65

1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied. (65:2) Aan U kom 'n lofsang toe, o God, in Sion, en aan U moet die gelofte betaal word.

2 (65:3) o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!

3 (65:4) Ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad, maar U versoen ons oortredinge.

4 (65:5) Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis.

5 (65:6) Vreeslike dinge antwoord U ons in geregtigheid, o God van ons heil, vertroue van al die eindes van die aarde en van die verste see!

6 (65:7) Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag,

7 (65:8) wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke;

8 (65:9) sodat die bewoners van die eindes vrees vir u tekens; U laat die uitgange van die môre en die aand jubel.

9 (65:10) U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land.

10 (65:11) U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel.

11 (65:12) U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.

12 (65:13) Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.

13 (65:14) Die weivelde is bekleed met troppe kleinvee, en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.