Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 84

1 Vir die musiekleier; op die Gittiet. Van die kinders van Korag. 'n Psalm. (84:2) Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!

2 (84:3) My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.

3 (84:4) Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!

4 (84:5) Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.

5 (84:6) Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.

6 (84:7) As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit 'n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.

7 (84:8) Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.

8 (84:9) HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela.

9 (84:10) o God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.

10 (84:11) Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.

11 (84:12) Want die HERE God is 'n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.

12 (84:13) HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!