Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 89

1 'n Onderwysing van Etan, die Esrahiet. (89:2) Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.

2 (89:3) Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele -- daar bevestig U u trou.

3 (89:4) Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe:

4 (89:5) Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.

5 (89:6) En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges.

6 (89:7) Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge,

7 (89:8) 'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?

8 (89:9) o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U!

9 (89:10) U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.

10 (89:11) U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.

11 (89:12) Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid -- U het dit gegrond.

12 (89:13) Die noorde en die suide -- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.

13 (89:14) U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.

14 (89:15) Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.

15 (89:16) Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig.

16 (89:17) In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.

17 (89:18) Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.

18 (89:19) Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.

19 (89:20) Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef.

20 (89:21) Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf,

21 (89:22) met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk.

22 (89:23) Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie;

23 (89:24) maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan.

24 (89:25) En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word.

25 (89:26) En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere.

26 (89:27) Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!

27 (89:28) Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.

28 (89:29) Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas.

29 (89:30) En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.

30 (89:31) As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie;

31 (89:32) as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie,

32 (89:33) dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid.

33 (89:34) Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.

34 (89:35) Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.

35 (89:36) Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!

36 (89:37) Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.

37 (89:38) Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela.

38 (89:39) Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.

39 (89:40) U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond.

40 (89:41) U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak.

41 (89:42) Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword.

42 (89:43) U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak.

43 (89:44) Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie.

44 (89:45) U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp.

45 (89:46) U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela.

46 (89:47) Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur?

47 (89:48) Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!

48 (89:49) Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.

49 (89:50) Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou?

50 (89:51) Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke,

51 (89:52) waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.

52 (89:53) Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.