Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Psalms 92

1 'n Psalm. 'n Lied vir die sabbatdag. (92:2) Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,

2 (92:3) om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;

3 (92:4) by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.

4 (92:5) Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.

5 (92:6) Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!

6 (92:7) 'n Dom mens weet nie, en 'n dwaas verstaan dit nie:

7 (92:8) as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.

8 (92:9) Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, HERE!

9 (92:10) Want kyk, u vyande, o HERE, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word.

10 (92:11) Maar U verhoog my horing soos van 'n buffel; ek is met vars olie gesalf.

11 (92:12) En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan.

12 (92:13) Die regverdige sal groei soos 'n palmboom; hy sal opgroei soos 'n seder op die Líbanon.

13 (92:14) Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God.

14 (92:15) In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees,

15 (92:16) om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.