Africaans Bible 1953 | Book List

Navigation


 

Hosea 12

1 (12:2) Efraim hou hom besig met wind, en hy agtervolg die oostewind; die hele dag vermeerder hy leuens en geweld, en hulle sluit 'n verbond met Assur, terwyl olie na Egipte gevoer word.

2 (12:3) Die HERE het ook 'n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade.

3 (12:4) In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.

4 (12:5) Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.

5 (12:6) En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.

6 (12:7) En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.

7 (12:8) Kanaän -- in sy hand is daar 'n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers.

8 (12:9) Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my 'n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie.

9 (12:10) Maar Ek is die HERE jou God van Egipteland af, Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die dae van die huttefees.

10 (12:11) Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra.

11 (12:12) Was Gílead goddeloosheid hulle het louter nietigheid geword. In Gilgal het hulle beeste geoffer; so sal dan hulle altare wees soos kliphope op die vore van die landerye.

12 (12:13) En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir 'n vrou as loon, en vir 'n vrou het hy vee opgepas.

13 (12:14) Maar deur 'n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur 'n profeet is hulle opgepas.

14 (12:15) Efraim het die HERE bitterlik geterg; daarom sal Hy sy bloedskulde op hom laat neerkom, ja, sy Here sal hom vir die aangedane smaad vergelde.